SHOWING ARTICLE 36 OF 124

Huurgeld vooruit betaal dalk 'n slang in die gras

Category Expert Insight

Dit kan dalk uiters ideaal vir 'n verhuurder klink as die huurder die huurgeld vooruit wil betaal, maar volgens eiendomskenners moet jy liefs lig loop daarvoor.

Die TPN Kredietburo het onlangs in 'n nuusverklaring gewaarsku dat eienaars van huureiendom op hul hoede moet wees wanneer voornemende huurders aanbied om hul huur in kontant vooruit te betaal.

Hoewel vooruitbetaalde huurgeld van tussen ses en 12 maande die eienaar aanvanklik kan beïndruk, kan die betalings skielik opdroog wanneer die huurder se finansiële situasie verander.

Vooruitbetaalde huurgeld het meestal 'n positiewe uitwerking op die vertrouensverhouding tussen die verhuurder en die huurder en as gevolg hiervan kan die verhuurder dan besluit om die huurder te vertrou teen hul beterwete en tot hul eie nadeel.

Hoewel dit natuurlik nie altyd die geval is nie, kan 'n huurder se bereidwilligheid om vooruit te betaal daarop dui dat kontant kom en gaan en nie iets is waarop die huurder kan reken nie.

TPN sê nog 'n probleem met huur wat vooruit betaal word, is dat die huurder en verhuurder nie altyd vooraf ooreen kom oor hoe die water en elektrisiteit betaal moet word nie.

"Hulle het dalk ooreengekom dat die huurder die huurgeld vooruit kan betaal, maar as die water en elektrisiteit nie by hierdie huurbedrag ingereken word nie, moet jy as verhuurder seker maak dat die huurder bewus is daarvan dat hy of sy hierdie rekening maandeliks sal moet betaal.

Waarop julle ookal ooreenkom, moet dit duidelik in die huurooreenkoms uiteengesit word.

"Verhuurders moet ook daarop let dat die huurder ongeag of die huurgeld vooruit betaal word of nie daarop geregtig is om hul huurkontrak ingevolge art. 14 van die Wet op Verbruikersbeskerming te kanselleer deur 20 werkdae kennis te gee. Die huurder is dan aan spreeklik vir 'n kansellasieboete."

'n Groot probleem kan ontstaan wanneer die boete deur die huurder betaal word en die verhuurder dan die vooruit betaalde huurgeldbedrag aan die huurder moet terugbetaal veral as die verhuurder reeds die geld gebruik het.

Dieselfde geld wanneer die huurkontrak gekanselleer sou word voordat die huur tydperk verstryk. TPN beveel aan dat verhuurders wat besluit om vooruitbetaalde huurgeld te aanvaar, gebruik maak van 'n ervare eiendomsagent as 'n tussenganger. So sê die kenners.

Adrian Louw, bestuurder van Seeff Century City, sê daar is beslis voordele aan vooruitbetaalde huur verbonde. Dit bied uitstekende sekuriteit en dit kan ook die huurder boaan die lys van aansoekers plaas.

Probleme kan egter ontstaan as die vooruitbetaalde huur slegs vir 'n sekere periode van die huur kontrak geld; byvoorbeeld ses van die 12 maande. Hy beveel daarom aan dat alle aansoeke om 'n eiendom te huur deeglik oor weeg moet word, ongeag oor hoe die huurder van plan is om die huur te betaal.

Wanneer 'n huurder aanbied om die kontrak vooruit te betaal, behoort dit nie te wees om die bepaling van hul kredietwaardigheid te omseil nie. Huurders wat hul huurgeld vooruit wil betaal, moet ook onderwerp word aan 'n FICA ondersoek sodat enige geldwassery risiko's voorkom kan word.

Geldwassery is moontlik wanneer 'n huurder byvoorbeeld die huurgeld ses maande vooruit betaal en dan die kontrak vinnig kanselleer, waarna hulle vra dat die vooruitbetaalde huur in 'n ander bankrekening oorbetaal word.

Mark Johnson, Seeff se besturende direkteur vir die KwaZulu Natalse Noordkus, sê laastens hoewel hulle altyd versigtig is wanneer huurders hul huur vooruit wil betaal, aanvaar hulle dit wel as die bron van die geld bevestig kan word om te verseker dat dit nie deel van 'n bedrogspul is nie.

"Vooruitbetalings is gunstig wanneer dit gebruik kan word om 'n beter huurprys te beding of weens kommer oor swak kredietwaardigheid," verduidelik hy.

"In die geval van swak kredietwaardigheid doen ons bykomende ondersoeke om te bepaal dat die huurder nie 'n misdaadgeskiedenis het nie."

Volksblad en Die Burger

Author: Volksblad

Submitted 02 Sep 20 / Views 2131